Hy kom na ons toe deur ’n Kind

 

Jesaja 9: 5-6

 

Die beskrywing wat Jesaja vir ons gee van die Messias wat gaan kom, begin by die Kind wat gebore word. Wanneer ons dink aan die vorige paar dae se dagstukkies, besef ons dat daar al vir eeue voorspel is dat ’n draaipunt gaan plaasvind. Die Israeliete het ’n seun nodig. Hulle het nodig dat daar iemand vir hulle gebore sal word wat anders is as die vorige konings, hulle het iemand nodig wat in hierdie donker tyd sal staan vir reg en geregtigheid, wat getrou sal wees aan God, wat vrede sal najaag en liefde sal uitleef. Hulle kort ’n regte en ware koning. ’n Koning wat anders is, ’n koning wat hul omstandighede sal verander.

Wie egter vir hulle gebore is, is toe soveel meer... Die teoloog Walter Brueggemann het gesê: Met Kersfees vier die kerk nie net eenvoudig die geboorte van ’n wonderbaarlike baba nie. Dit is deur daardie geboorte dat ons die kosmiese realiteit van God vier, van Hom wat die proses van die wêreld binnegekom het en op ’n baie spesifieke manier alles kom verander het.

Jesus het alles kom verander. Dit is tyd om dit te vier. Jesus het dit egter op ’n baie spesifieke manier kom doen. Wie ons verwag en wie ons nodig het, sal altyd oortref word deur wie Jesus regtig is. Wie Jesus is en waartoe Hy in staat is, is altyd meer as wat ons kan dink of verwag. Die Koning wat Hy is, is baie meer as ons menslike idees. Wanneer ons in Advent en veral in hierdie week die lig vier, die lig wat Jesus vir ons kom wys het, vier ons die manier hoe Hy dit kom doen het. En hoe dit ons wese en manier van dink sal oortref.

Gebed

Here, dankie dat U meer is as my menslike pogings om U te verstaan. Dankie dat U my pogings sien en dat dit goed genoeg is vir U.

Ds Leanie Oberholzer

Pretoria-Oos