Hy kom na jou toe

 

Jesaja 9: 1-6

Watter betekenis dra hierdie voorspelling vir ons vir wie die lig reeds opgekom het, vir ons wat soms sukkel om die Seun te sien? In hierdie donker wêreld waar ons onsself eerder blind staar teen die slegte en die verkeerde, die lelike en die gebreekte, as om iets hoopvol in die Kersliggies van die feestyd en die Kersfees te sien.

Ons het ook die Kind nodig – die Seun wat gebore is én wat ook Here is. Die Een wat lig kan bring in ons donker; wat in ons laagtepunte teenwoordig is; wat ook vir ons ’n blywende Vader kan wees, veral wanneer ons aardse ondersteuningsnetwerke inmekaartuimel; wat ons raad kan gee wanneer ons ons vasgeloop en vasgedraai het; wat ons bly sal maak oor al die gawes waarmee ons so oorvloedig geseën word, oor die feit dat ons ons lewe in die teenwoordigheid van God kan leef; wat ook vir ons die Magtige God sal wees; wat ook aan ons reg sal laat geskied; en ons ook koninklik in sy koninkryk van vrede sal inlei…

Ontmoet hierdie Seun wat gebore is en vir ons gekom het. Ontmoet Hom en kies om hoopvol aan Hom vas te hou. Daar wag vir ons troos en sorg by Hom.

Gebed

Here, werk so in my hart dat U vir my die Kind word. Die Een wat redding bring. Amen.

Ds Leanie Oberholzer

Pretoria-Oos