U is die God wat my sien

 

Genesis 16: 1-16

 

Hier ontmoet Hagar vir God. God, die skepper van die hemel en aarde, die een wat haar aanmekaar geweef het, verskyn aan haar, maar dit lyk vir ons of niks in haar lewe verander het nie. Steeds bevind sy haarself in die ondraaglike situasie. Steeds moet sy gebuk gaan onder Abram en Sarai se skelwoorde, hul harde hande. God verskyn aan haar maar sy ontvang nie uitkoms nie. ’n Wonderwerk verander nie haar lewe nie. Nee, oënskynlik lyk dit vir ons asof niks in haar lewe verander het nie.

Of het daar dalk wel iets in haar lewe verander? Dit lyk miskien op die oppervlakte of alles presies dieselfde gebly het, maar kyk ons dieper, sien ons dat Hagar se situasie wel geheel en al verander het. Die feit dat sy God gesien het, het tot gevolg dat sy anders na haar lewe kyk. En nog meer, sy ervaar dat God haar pyn en lyding, haar frustrasie en hartseer raaksien, en daarom kyk sy anders na haar eie situasie. God kom so naby aan haar. Hy sien haar woede. Hy hoor dat sy sielsongelukkig is. Hy ken haar diepste hartstog, haar diepste verlange en haar hoop. Die ervaring dat God naby is, dat God sien, dat God hoor, was vir haar genoeg.

Die feit dat God naby is, dat Hy haar nood sien en haar noodkreet hoor, maak dit vir haar moontlik om terug te gaan. Die nabyheid van God gee haar die krag om hierdie onmoontlike omstandighede aan te pak en dit te verduur. Sy kry miskien nie uitkoms of redding nie. Maar omdat God so naby is, vind sy die krag en die moed om te trotseer wat voorheen ondraaglik was.

In die Adventstyd moet ons ook besef dat God ons raaksien. Hy kyk na die mensdom en Hy sien ons hartseer en pyn. Hy kyk na elkeen van ons en Hy sien die omvang van ons sonde en skuld. Juis daarom word Jesus na die aarde gestuur. Omdat God ons nood raaksien en omgee vir sy kinders, word Jesus vir my en jou gebore.

Ds Petrus Dreyer

Barberton