Die Woord van die Here bly vir ewig staan

 

Jesaja 40: 1-11

 

Ons lees hier van Israel, God se verbondsvolk. Hulle wat oortuig was dat hulle met hul goeie dade God se guns kon wen. Tog, ten spyte van hul pogings om God se wet na te kom, sit hulle in ballingskap. Uit dié tyd kom die bekende Psalm 137 waar die psalmdigter sy smart voor die Here uitstort oor Jerusalem wat verwoes is. Daar lees ons: By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink...

Alhoewel ons nie ballinge in ’n vreemde land is nie, is ons maar net soos Israel uitgelewer aan kragte wat ons nie kan beheer nie. Net soos Israel, meegesleur deur gebeure wat hulle nie kan beheer nie, vind ons onsself ook dikwels in situasies waar ons maar net magteloos kan toekyk. Ons kan dan nie anders nie as om met die profeet Jesaja saam te stem. Die lewe is soos gras en alles waarop die mens staatmaak, is soos ’n veldblom. Die lewe en dit waarop die mens so trots is, vergaan in ’n oogwink.

In die lig hiervan klink dit of daar geen hoop is nie. Dit lyk vir ons asof die uitkoms waarvan die teks praat, tot niks kom. Tog is alles nie verlore nie. Daar is hoop. Daar is uitkoms. En ons vind troos teen alle verwagtinge in. In die teks lees ons dat gras verdor en blomme verwelk, maar dat die woord van ons God vir ewig bly staan.

Wat beteken dit? Hoe kan die feit dat God se woord ewig bly staan ’n troos in ons lewens wees? Dit beteken dat God deur die eeue heen, ten spyte van sonde, hartseer en lyding, ten spyte van haat, wellus en selfsug en ja, selfs ten spyte van die dood, getrou bly aan die mens. God sal sy verbond, sy ooreenkoms met Israel nakom. Hy sal sy Woord gestand doen – hulle sal ’n toekoms hê. Die getrouheid en die liefde van God word natuurlik die duidelikste sigbaar in Christus se koms na die wêreld.

Ds Petrus Dreyer

Barberton