Miskien is daar hoop

 

Klaagliedere 3: 1-30

 

Wat moet ons uit hierdie moeilike teksgedeelte neem? Ons mag maar met die Here baklei. Of eerder, ons moet met die Here worstel. Ons moet met Hom praat en selfs op Hom skree wanneer die ellende ons pad kruis. Slegs deur die twyfel en ontnugtering na die Here te neem, kan ons antwoorde kry. Daar is nie maklike antwoorde in die geloof nie.

Wanneer ons die hartseer pad saam met God stap, sal ons geleidelik besef dat ons anders begin kyk, anders begin voel en anders begin lewe. Uit die absolute hopeloosheid word hoop gebore. Die onverklaarbare hoop is ’n gawe van God.

Ja, somtyds verstaan ons nie. Somtyds voel ons Godverlate en alleen. Somtyds is ons so hartseer dat ons nie eens uit die bed kan opstaan nie. Al voel dit vir my of ek gruis eet en met pyle in my liggaam rondloop, weet ek dat God my die lewe gegee het. Weet ek dat God nog altyd voorsien het, en daarom is Hy ook by magte om môre te voorsien as dit sy wil is.

Die voortdurende bemoeienis wat God met die mens het, sien ons die duidelikste in Jesus se geboorte. Deurdat God die wêreld deur Jesus betree, word aan elkeen van ons gewys dat daar tog hoop is in ’n hopelose wêreld. Ons sien dit egter nie net in Jesus se geboorte nie. Ons sien dit ook in die lydensweg wat Hy loop en wat aan die kruis eindig. Die hoop word egter die duidelikste sigbaar in Jesus se opstanding uit die dood. As ons dit besef, as ons dit glo, kan ons ook soos die digter sê: Maar miskien is daar hoop – selfs wanneer ek dit nie vandag sien nie.

Ds Petrus Dreyer

Barberton