Mag ek vra hoekom?

 

Habakuk 1: 2-4

 

My ouma het gesê ’n mens mag nie hoekom vra nie. Vra jy dit, het jy nie respek vir God nie. ’n Kind moet alles aanvaar wat sy vader vir hom gee. Maak nie saak of dit jou aardse of hemelse Vader is nie. ’n Goeie kind vra nie vrae nie. Hulle doen net. En ons moet mos die evangelie aanvaar soos goeie, gehoorsame, onderdanige kinders van God.

Dit is vir my moeilik om nie te vra nie. Vandat my verstandelik gestremde sussie gebore is, was die hoekom-vraag voortdurend maar deel van ons familie se gesprekke en nadenke. Ons weet nie regtig wat die breinskade veroorsaak het nie. Dit kon die x-strale gewees het terwyl my ma swanger was, dit kon die moeilike geboorte gewees het waar sy sonder suurstof was. Hoekom moes dit gebeur? Haar lewe was ’n vyf en veertig jaar lange hel. Sy moes die grootmenswêreld met ’n tweejarige se breinfunksie aanpak. Medikasie moes vir haar voorgeskryf word om die lewe te help hanteer. Hierdie tipe medikasie het erge newe-effekte, en sy het van haar motoriese funksies verloor as gevolg van ’n allergie wat sy vir een van die middels ontwikkel het. Die vraag is weer: Hoekom?

Mag ons hierdie vraag vra? Ek weet van baie gelowiges wat vrae gevra het. Hul stories word in die Bybel vir ons vertel. Job se storie is die bekendste. Daar is ook Dawid, Salomo en Habakuk. En natuurlik ook Jesus self wat aan die kruis (saam met die hele wêreld, soos in Ps 22: 1) vra: My God, my God, waarom het U My verlaat?

Dit lyk my ons mág vra. Wie gevra het, het nie altyd al die antwoorde gekry nie, maar tog is daar sin daarin om te vra. Habakuk neem die vrymoedigheid om by God te kla. Hy kry nie antwoorde op sy hoekoms nie, hy kry berusting. Net so met Jesus. Hy kry ook nie ’n antwoord nie, maar sterf vertrouend op God, met die aandgebed van Joodse kindertjies op sy lippe: Vader, in u hande gee Ek my gees oor (Luk 23: 46).

Ds Stephen de Beer

Noordwestelike Pretoria