Om teen die dak vas te bid...

 

Psalm 130

 

Het dit al met jou gebeur? Jy bid met groot erns tot die Here en jy weet dat dit wat jy vra, nie buitensporig is nie. En dan gebeur net mooi niks. Dit voel asof jy teen die spreekwoordelike dak vas gebid het.

Dit is wat met die digter van hierdie psalm gebeur. Met die lees van die psalm kom jy agter dat hy in groot nood verkeer, en dat hy male sonder tal al met die Here daaroor gepraat het. Sonder enige reaksie. Daar is byna wanhoop in sy versugting: Hoe lank nog, Here? Moedeloos begin Hy dan om die fout by homself te soek. Hy meen dit is geen wonder dat die Here nie na hom luister nie. Hy is so swak en vol sonde. Die Here het geen rede om aan sy saak aandag te gee nie. Maar dan, terwyl hy so met homself gesels, besef hy dat dit nie oor sy sonde kan wees dat daar geen reaksie van die Here se kant af is nie. As die Here ons sonde in aanmerking sou neem, sou geen gebed ooit verhoor word nie. Niemand is sonder sonde nie!

Daar moet dus ’n ander rede wees waarom dit soms wil voorkom asof die Here nie na ons luister nie. Hy luister wel, maar die Here het ’n ander tydskedule as ons. Partymaal moet ons meer geduld aan die dag lê. Uit die psalm leer ons dat ons op die Here moet wag soos wagters op die môre, seker daarvan dat die dag sal breek. Die wagte in daardie tyd moes sonder ’n horlosie probeer bepaal hoe lank die wagbeurt in die nag nog gaan aanhou. Die wagte het wel geweet dat die nag sal ophou en dat die wagbeurt sal eindig. Maar hulle moes maar geduldig vir die son wag om die donker te verdryf.

Ons moet leer om onsself aan God toe te vertrou en geduldig vir Hom te wag, seker van die heil wat God skenk. Ja, met groter sekerheid as die wagte wat op die dagbreek wag!

Ds Stephen de Beer

Noordwestelike Pretoria