God se gedagtes is nie ons s’n nie


1 Korintiërs 13: 12

 

My vrou was reeds weg werk toe daardie oggend. Ek moes ons twee kleuters by die skool aflaai, voor my eerste afspraak. Maar dit was een van daardie dae. Die kinders was maar traag om op te staan na die vakansie. Die bediende het nie opgedaag nie, en die hemp wat ek wou aantrek, was nie gestryk nie. Met die horlosie wat genadeloos die tyd aftik, gryp ek die strykyster en begin om die hemp darem so half aanvaarbaar vir die oog te maak.

Vir my seun, toe so twee jaar oud, was hierdie strykyster in Pa se hand verskriklik interessant. Die sis-geluid en die stoom wat uitblaas, het hom geweldig gefassineer. Hy het kort-kort aan die koord van die yster getrek om te kyk of hy nie die oulike speelding van nader kon bekyk nie. Veral as ek die yster neergesit het om die hemp op die strykplank te verskuif, het hy gedink dis sy beurt om met die stoomkarretjie te speel. Wat hy vir ’n interessante speelding aangesien het, kon hom lelik seergemaak het. Ek het dit geweet, hy nie. Sy babaverstand het die beste speelding ooit gesien en sy hartjie was baie seer toe ek hom daarvan weggeruk het. Hy het nie besef dat ek die mooi stoom van hom af weghou juis omdat ek hom liefhet nie.

Terwyl hy onbedaarlik huil en my letterlik smeek om met die yster te speel, het ek gewonder hoeveel keer ons met God se warm ysters wil speel. Ons is so baie keer teleurgesteld as ons nie ons sin in die lewe kry nie. As ons smeek en vra, en God weerhou ons daarvan. Dan wonder ons ook of die Here regtig lief is vir ons. Ons moet besef dat God se gedagtes nie ons gedagtes is nie. As ons nie ons sin kry nie, is dit nie omdat Hy nie vir ons lief is nie.

Ds Stephen de Beer

Noordwestelike Pretoria