Jesus huil saam met jou

 

Johannes 11: 33-44

 

In Die hamer van die hekse, ’n verhoogstuk van C Louis Leipoldt, vertel die Kardinaal vir Placido dat die slegte en die goeie albei deel van die skepping behoort te wees. Dis nodig vir die harmonie van die heelal, meen hy. Sonder kennis en ondervinding van die slegte, kan die goeie nooit waardeer word nie. Dit is eers as jy gebrek gely het, dat jy werklik in staat is om oorvloed te waardeer. Hy wat kan sien, kry eers werklik waardering vir sy oë as hy die gevaar loop om sy sig te verloor. En jy kry eers waardering vir die gebruik van jou bene as jy nie meer kan loop nie...

Dit mag wel waar wees, maar hierdie wete maak dit nie makliker om die slegte in die lewe te hanteer nie. Ons weet en aanvaar daar sal altyd rowers wees. Maar as jy of jou familie beroof word of ’n kaping moes beleef, is dit erg traumaties. Ons weet daar sal altyd siekte wees en die dood is onafwendbaar, maar as dit aan jou deur kom klop, is dit moeilik om daarmee vrede te maak. Daar bestaan nie ’n traumalose siekbed, begrafnis, werkverlies of egskeiding nie. Die feit bly staan: Die lewe dryf ons dikwels tot hartseer en trane.

In sulke tye huil Jesus saam met jou. Soos Hy gedoen het met Maria nadat Hy van haar broer se dood gehoor het. Hy het die impak van haar verlies gesien. Dit het sy gemoed laat vol skiet. Hy was aangedaan. Hy het saam met haar gevoel en haar ondersteun. Die groot wonder was nie dat Jesus Lasarus uit die dood opgewek het nie. Lasarus sou in elk geval later weer sterf. Die wonder is: Jesus huil saam met jou. As jy dink dat die Here te ver is, of jy twyfel aan sy bestaan, weet dan dat Hy die pad met jou wil saamloop en dat Hy oral saam met jou wil gaan. Méér nog, Jesus het vr ons gely, sodat geen lyding ons van die liefde van God kan skei nie. Dt is ons eintlike troos!

Ds Stephen de Beer

Noordwestelike Pretoria