Hy laat alles ten goede meewerk

 

Romeine 8: 28

 

Toe Meneer ons vra om na skool te help met die plakkate vir Saterdag se kermis, was ons alles behalwe opgewonde. Ons vier maats moes die plakkaat vir die skyfskiet maak. Ons besluit om vinnig en slim te werk. Een sou solank die geweer teken, terwyl die ander drie elkeen die kwas met verskillende kleure sou laai om die letters op die plakkaat te kry. Nege letters. Elkeen drie. Ons sou gou klaar wees. Ek maak my "S". Pieter moes die "k" verf, maar Dewald spring hom voor met die "y"... En daar is ons hele plakkaat een groot gemors!

Ons was in groot moeilikheid! Daar was nie ekstra plakkate nie. Meneer het ons gewaarsku om eers met potlood te teken, en dan te verf. Ons het drooggemaak. Ons het druipstert met die plakkaat na Meneer gegaan. Ons het woede en straf verwag. Tog het hy net sy kop geskud, en gesê: Gee hier. Laat ek kyk wat ek kan red. Hy het ons ongehoorsame poging gevat, dit ’n rukkie bestudeer en uitgeroep: Ja, ons kan dit so regmaak! My "S" het net so behoue gebly, maar hy het vir Dewald se "y" ’n strepie bygesit om ’n omgekeerde "k" te vorm, toe die "y" weer normaal geteken. Die "f" het hy weer omgekeer, die "s" normaal geteken en die hele woord voltooi. Meneer het ons gemors reggemaak. En op die kermis wen ons toe die prys vir die mees oorspronklike plakkaat!

Jare later het ek geleer dat dit is hoe God met ons te werk gaan. Hy laat nie die slegte en verkeerde dinge in ons lewens gebeur nie. Hy skep nie virusse nie en maak nie siek nie. Hy verbrokkel nie huwelike nie. Hy maak nie seer nie. Hy beplan nie rooftogte nie en pleeg nie moorde nie. Hy is nie die bewerker van die sonde nie. Ons mors ons eie plakkate op. Wat Hy egter wel doen, is om alles ten goede te laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. Hy omskep mense se gemors in ’n wenplakkaat!

Ds Stephen de Beer

Noordwestelike Pretoria