Vrede vir julle

 

Lukas 19: 35-44

 

In die Kerstyd word baie van vrede gepraat. Op talle maniere word ons om elke hoek en draai daaraan herinner. Dit bly egter moeilik om vrede in die wêreld raak te sien. As ’n mens rondom jou kyk, is vrede alles behalwe wat ons ervaar. Ons word eerder bewus van die teenoorgestelde van vrede. In plaas van vrede, sien ons oorloë tussen volke, onmin in families, rusies in verhoudings en bakleiery tussen vriende. Die Kerstyd verbloem dit vir ’n week of twee, maar die situasie keer gou weer terug na (ab)normaal. As ons tog maar net geweet het hoe ons die vrede kan laat aanhou!

Toe Jesus op ’n donkie Jerusalem binnery, het die vredestyd vir die stad aangebreek. Vrede in die hemel, weerklink die lied wat die skare sing. Maar nie almal is ewe opgewonde oor die boodskap van vrede nie. Meneer, maak stil u volgelinge, sê die teenstanders van Jesus. Jesus is teleurgesteld dat hulle die vrede waarna hulle smag, vlak voor hul oë miskyk. En Jesus huil oor die inwoners van Jerusalem wat nie kon verstaan wat vir hul vrede nodig is nie. Die hartseer is dat die Vredevors by hulle is, maar hulle is blind daarvoor. Hulle kon God se vrede ervaar het as hulle sy teenwoordigheid besef het. Maar hulle het die betekenis van die tyd toe God gekom het om hulle te red nie raakgesien nie.

Met Kersfees neem ons kennis van God wat ons leefwêreld binnekom: Immanuel, God-met-ons! Ons durf nie wegskram van die nabyheid van die Vredevors in ons midde nie. Sy vrede is beskikbaar. Pleit by die Here om altyd sy vrede te ervaar en vir die moed om sy vrede in al ons verhoudings te laat werk.

Ds Stephen de Beer

Noordwestelike Pretoria