Wagtyd…

 

Jakobus 5: 7-11 (1)

 

Daar is ’n ou Chinese gelykenis met die opskrif: Die ongeduldige boer. Dit lui so: ’n Boer het eendag saad op sy land gesaai en gaan slaap. Die volgende oggend was hy douvoordag op die land om te sien of die koring al opgekom het. Tot sy groot teleurstelling was daar nog niks. Uiteindelik, een oggend, sien die ongeduldige boer dat die landerye bedek is met die eerste groen uitlopers van sy gesaaides. Tot almal se verbasing het hy vooroor gebuk en al die plantjies so ’n entjie uit die grond begin uittrek, in ’n poging om hulle groter te laat lyk. Die verhaal eindig met dié sinnetjie: Die koringplante het omgeval, die man was dom en almal het vir hom gelag.

Miskien moet ons nie te gou vir die boer lag nie, want doen ons nie maar dieselfde nie? Ek kan nie meer wag nie… sê ons. Sedert Jesus se geboorte het immers ongeveer 2 000 jaar verloop. Ons vier weer die eerste koms van Jesus na hierdie aarde. Die engele het oor die velde van Efrata van vrede gesing, maar wat het sedertdien verander? Ons sien nog niks daarvan nie. Nee, Here, voel ons om te sê, ek kan nie meer wag nie. Ons wil nou, vandag, die oes van die land gaan afhaal.

Advent wil ons daaraan herinner dat God wagtyd gebruik om ons voor te berei en te verander. Dit is die tyd waarin Hy op sy wyse die grond voorberei vir die saad. Vir sulke mense, mense wat moeg gewag is, mense wat voortydig die plantjies uit die grond wil trek, staan Jakobus 5: 7 en 8 in die Bybel: Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here.

Gesang 329

Ds Mariaan Delport

Sionspoort