Ek is gered! (1)

 

Lukas 2: 8-20

 

JB Phillips vertel êrens, vanuit ’n ietwat ongewone gesigspunt, die Kersverhaal van die engele: Twee van hulle, ’n senior engel en ’n junior engeltjie, is besig met ’n besigtigingstoer deur die heelal. Hulle blits verby asemrowende sterrestelsels en sonne. Toe hulle nader beweeg aan die ster wat ons ons son noem, wys die senior engel ’n klein, onbeduidende planeet wat stadig rondom sy eie as draai. Dit het vir die klein engeltjie, wie se gedagtes nog gevul was met die grootsheid van wat hy so pas gesien het, maar baie klein, valerig en vuil gelyk. Met geskokte ongeloof moet die klein engeltjie toe hoor dat die planeet, die Aarde, so onbeduidend as wat dit was, dié beroemde planeet was wat Jesus besoek het. Bedoel jy, vra hy, dat ons groot Prins persoonlik na die vyfderangse klein balletjie toe gegaan het? Hoekom sou Hy so iets doen? Ja, antwoord die senior engel, en ek dink nie Hy sal wil hê dat jy so neerhalend na hulle verwys nie, want Hy het hulle lief. Hy het afgedaal om hulle te besoek, om hulle op te hef. Die engeltjie was verstom. Die gedagte was bokant sy begrip. (Vry vertaal.)

Die verhaal van Jesus se koms na die aarde is ook bokant ons begrip, hoe sal ons dit kan verstaan? Hy wat vóór alles is en ná alles sal wees, kom na óns toe. Die engele in Lukas 2 sê dat Hy ’n welbehae in ons het. Kan dit werklik wees? Ons weet dat hierdie wese, die mens, nie die liefste skepsel is wat daar is nie. Maar God is nie ’n idealis nie. Hy kyk nie oor ons sonde heen asof dit nie bestaan nie, en tog behou Hy ten spyte van dit alles nog sy welbehae in ons.

Ons kan dit maar net uitjubel: Die wêreld is gered, en Goddank, ek kan ook my stem daarby voeg, want een van die wesens op daardie vaal, swewende planeet, Aarde, is ék! Mag ons in hierdie Kerstyd opnuut met verwondering vervul word oor God se groot liefde vir ons. Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het! (Luk 2: 14).

Ds Mariaan Delport

Sionspoort