Ons wag nie tevergeefs nie…

 

Jakobus 5: 7-11 (3)

 

Adventstyd spel verwagting uit. Ons leef in afwagting op die koms van ons Verlosser. Hierdie lewe in afwagting maak ons geloof, ons lewe hier en nou sinvol. Daarsonder is ons lewe leeg. Daarsonder is ons sonder hoop in die wêreld.

Jesus se eerste koms herinner ons daaraan dat ons nie tevergeefs wag op sy tweede koms nie. Ons bevind ons in die tyd tussen sy eerste koms en sy tweede koms. Maar omdat Christus 2 000 jaar gelede in Betlehem gebore is, het ons hoop. Advent is ’n tyd van gespanne afwagting op Christus se koms. Dit is ’n tyd van selfondersoek en diepe nadenke, omdat ons terugdink aan die tyd vóór Christus se koms toe alles donker was. Ons besef hoe die lewe sou gewees het sonder die sekerheid van sy lig en verlossende lewe en sterwe. Ons leef in die verwagting dat die dag sal aanbreek dat elke knie voor God sal buig en dat elke tong sal bely dat Hy God is.

En daarom kan ons in hierdie wagtyd tussenin met vreugde leef, omdat ons weet dat dit dalk ’n lang en moeilike wag is, ’n wag waarin skynbaar niks verander nie, maar ons weet: Ons wag nie tevergeefs nie. Net soos ’n swanger vrou se vreugde werklik is al is haar baba nog nie gebore nie. Die belofte word van ver af begroet. Ons verbly ons met Kerstyd in die wete dat God se wonderwêreld ingebreek het in hierdie wêreld van ons. Ons het vreugde oor God wat iets nuuts beloof. En al sien ons dit nie nou nie, is die wag daarop nie vrugteloos nie.

Gesang 332: 1-4

Ds Mariaan Delport

Sionspoort