Ek is gered! (2)

 

Lukas 2: 8-20

 

Jesus het gekom om ons te red. Karl Barth het by geleentheid hieroor gepreek, en die mens vergelyk met ’n man wat op ’n perd jaag oor ’n bevrore meer waarvan die yslaag al begin wegsmelt. Eers as die man by die oewer kom, en hy besef op watter dun ys hy is, stort hy van pure skrik ineen. Barth preek so verder: Gered – dit beteken dus nie: net so ’n bietjie bemoedig en getroos nie, maar eerder: soos ’n stuk hout uit ’n vuur geruk. Dit beteken ook nie: Julle sal dalk een maal, minstens gedeeltelik, gered word nie. Nee, dit beteken: Julle is gered, geheel en al finaal. Julle? Ja, ons! Nie die een of ander vroom en beter mens as ons nie, maar elkeen van ons… Ons het klaar by die oewer gekom, die bevrore meer met die dodelike yswaters daaronder lê agter ons. Hoe heerlik dat ons kan sê: Ek was in doodsgevaar, op die dun ys – maar ek is nie meer daar nie! Ek is gered. (Vry vertaal.) Jesus het ons van die dun lagie ys gered, van ons sonde verlos. Op ons eie sou ons nooit die oewer bereik het nie.

Jesus het gekom om die koers van ons lewens op pad na die verderf te verander, op pad na die lewe. Wie sal ooit die geboorte en sterwe van Jesus kan begryp? Die geboorteverhaal is eintlik maar net ’n inleiding tot die kruisverhaal. Dit herinner aan die skilder Domenichino se skildery: Die liggaam van Jesus is sopas van die kruis verwyder. ’n Engel het uit die hemel gekom en die doringkroon opgetel wat van Jesus se kop afgeval het. Met sy vinger raak hy aan een van die skerp punte van die dorings. Op die engel se gesig is ’n uitdrukking van matelose verwondering, van totale onbegrip…

Oor wat in die hemel gebeur het daardie dag toe Jesus aan die kruis vasgespyker is, kan ons maar net wonder… Sou die lofliedere miskien vir die eerste maal ooit stil geword het? Max Lucado het dit in die titel van een van sy boeke probeer verwoord: And the angels fell silent. Miskien was daar vir drie dae lank ’n geskokte, onbegrypende, totale swye in die hemel... maar net totdat Jesus uit die dood uit opgestaan het. Toe klink die lofliedere weer op! Want die ruiter waarvan Barth gepraat het, is van die dun ys geruk – net betyds! Ek was in lewensgevaar, op die dun ys, maar Jesus het die aarde se wentelbaan op koers geplaas na ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde! Toe die sonde in die wêreld gekom het, het Jesus gesê: Dan kom Ek ook (Noordmans).

Ds Mariaan Delport

Sionspoort