Kersfees: Om die onbekostigbare te ontvang (1)

 

Lukas 19: 1-10

 

Daar word ’n verhaaltjie vertel van Johnny Lingo wat agt koeie vir sy vrou, Sarita, betaal het. Die mense het vir hom gelag, want Johnny is lekker deur sy skoonpa ingeloop... Sarita was ’n valerige meisie. Almal het vir Sarita se pa gesê hy moet vir drie koeie vra en uithou met twee, totdat hy seker is Johnny gaan hom met een koei betaal. Maar toe kom Johnny en sê vir hom: Ek bied jou agt koeie aan vir jou dogter. Iets merkwaardigs gebeur toe: Sy word ’n beeldskone vrou met regop skouers. Toe eers het die mense Johnny Lingo se duur koop verstaan. Nou weet Sarita sy is meer werd as enige ander vrou op die eiland. Johnny wou ʼn agt-koei-vrou hê.

Daar is niks wat ’n mens so verander soos die gevoel dat jy kosbaar en geliefd is nie. Dit sien ons in die soekende Saggeus se verhaal. Hy was ’n ongewilde mannetjie wat ’n mens seker ’n een-koei-kêrel sou kon noem. Maar wanneer Jesus by hom gaan stilstaan, beleef Saggeus die onvoorwaardelike liefde van God, aanvaarding en vergifnis. En soos met Sarita van Johnny Lingo, verander Saggeus se hele lewe. Sy waarde styg van ’n een-koei-mens na iemand vir wie daar baie duur betaal is, nie met agt koeie nie, maar uiteindelik met die lewe van die Seun van God. Die dag as ’n mens met Jesus Christus te doen kry, verander alles! Dan sterf die ou mens in jou, en word jy ’n nuwe mens! Goddank, Jesus gaan nie onderhandel oor ons lewe nie. Hy het klaar die hoogste prys vir ons betaal, want Hy heg onskatbare waarde aan elke mens se lewe.

Gesang 245: 1-3

Ds Mariaan Delport

Sionspoort