Kersfees: Om die onbekostigbare te ontvang (2)

 

Lukas 19: 1-10

 

Jaar na jaar is dit met Kerstyd ’n geskarrel rondom die koop van geskenke, feestelike voorbereidings en pogings om ’n atmosfeer van vrede en welwillend-heid te skep. Ons is so moeg van haat en onvrede en alles wat verkeerd is. Ons soek soms so naarstiglik na vervulling van die dinge wat ons juis nie met geld kan koop nie: die onbekostigbare. Daardie lewensvervulling wat geen mens vir ons as geskenk kan gee nie.

Met Kersfees het ons hierdie onbekostigbare Geskenk ontvang. Dit is waaroor Kersfees gaan: God wat sy enigste Seun vir ons gee. God se liefde, sy onbekostigbare liefde, word nie in rand en sent gemeet nie. Dit word nie eens in atmosfeer en welwillendheid gemeet nie. Dit word gemeet aan die woorde van ’n Man aan die kruis: My God, waarom het U My verlaat? So duur was die geskenk wat God vir elkeen van ons gegee het, sodat ons kinders van Hom mag wees. Wanneer ’n mens tot hierdie ontdekking kom, kan jy nie anders nie as om soos Saggeus ’n totale verandering te ondergaan, om te sê: Here, hier is my lewe.

God het in Jesus Christus in ons diepste lewensnood voorsien. Hy het gegee wat ons nie kan bekostig nie, wat ons nooit kan koop nie. En ons verheug ons oor God se onbekostigbare liefde. Ons verheug ons oor God wat ’n welbehae in ons het. Dit is die wonder waarvoor ons in hierdie Kerstyd in aanbidding kan bly staan.

Gesang 358: 1-3

Ds Mariaan Delport

Sionspoort