Waarheen is ons op pad?

Efesiërs 5: 6-17

 

So dikwels hoor ons mense sê: Ek is moeg... Ja, voel ons self nie ook soms so nie? Ons hoor hierdie vrees by mense wanneer hulle byvoorbeeld sê: Ek is moeg – dit voel vir my asof ek in ’n donker put ingesak het en eintlik wil ek nie meer leef nie, want alles het vir my te veel geword – die lewe het sy sin verloor! Hierdie is die taal van mense wat moedeloos geword het – mense wat voel dat daar nie meer ’n doel agter elke dag se gejaag is nie. Mense wat die vreugde van elke dag iewers verloor het.

Die skrywer van Efesiërs se oplossing vir hierdie gevoel van sinloosheid wat soms op ons almal toesak, is eenvoudig en prakties: Lewe jou lewe soos God dit van jou vra. Lewe jou lewe versigtig. Lewe jou lewe met ’n doel. Moenie tyd mors nie. Gryp elke kans aan.

Fokus elke dag op ’n dieper verhouding met God in Jesus Christus. Wees besig met God, net soos Hy met jou besig is. Wees besig met God se Woord, en God se Woord sal met jou besig raak. Gryp elke geleentheid aan om ’n verskil te maak. Al is jy besig met wat. Al doen jy wat. Al werk jy waar. Al hou jy van wat. Al bly jy waar. Dit maak nie saak nie. Want hierdie dinge is net momente op my lewenspad. Dit is maar net deel van een groter pad: om te lewe, elke dag nader aan God, tot ons eendag by God sal wees.

Hou die groter prentjie in gedagte. Onthou waarheen jy eintlik op pad is, en dit sal jou pad in die lewe die moeite werd maak. Ons ambisies, onnodige vrese en vertroetelde wrokke beroof ons so maklik van die sin van die lewe en van ware lewensvreugde. Maar dit is nie hoe God wil hê ons moet lewe nie! Hou die groter prentjie in gedagte, en vind betekenis in ’n lewe voor en saam met God.

Prof Ernest van Eck

Universiteit van Pretoria