"Ek is"

Matteus 14: 22-33

 

Op 13 September 2001 het Frank Silica die veters van sy stewels vasgemaak, sy hoed opgesit en by die deur van sy huis in New Jersey uitgeloop. Eintlik was hy ’n konstruksiewerker, maar die vorige twee dae het hy uitgehelp as vrywilliger by die Wêreldhandelsentrum (die sogenaamde Tweetoringgebou) wat inmekaar gestort het nadat ’n vliegtuig in elk vasgevlieg het. Op daardie dag het Frank gehoop dat hy dalk nog saam met die ander ’n aantal lewendes uit die puin sou kon haal. Maar hy het nie. Hy het 47 dooies gevind.

Te midde van die slagting het hy ook op ’n geweldige simbool afgekom — ’n ses meter hoë kruis van ysterbalke wat gevorm is deur die hitte wat veroorsaak is toe die Tweetoringgebou inmekaar gestort het. Geen katrol het dit daarheen opgehys nie, geen sement het dit vasgehou nie, sonder mensehulp of menseskepping het dit daar gestaan. ’n Geweldige simbool tussen skerwe. ’n Kruis te midde van ’n krisis. Waar is God in dit alles? het almal gevra. Net daar in die middel, daar waar die kruis gelê het.

Ook die dissipels, in ’n storm op die see van Galilea, het hierdie vraag gevra. Waar is Jesus? Hy weet ons is in die skuit. Dit was tog sy idee. Is God dan nêrens naby nie? En dan kom die stem uit die storm: Ek is. Jesus praat. Hou moed. Ek is. Moenie bang wees nie! Julle is nie alleen nie. Saam met julle in die storm is God wat geken word as Ek is.

Hy is ook in my en jou storm, en in elke storm wat hierdie jaar oor jou mag kom. Jesus sê nie Ek was nie. Sy teenwoordigheid het nie truspieëltjies nie. Ook nie kristalballe nie. Jesus sê nie eendag sal Ek wees nie. God is nou by ons. Ook in 2016 wat voorlê. Elke dag, elke oomblik. Alles hang net af van hoe ons kyk. Waar is jou geloofsoog?

Prof Ernest van Eck

Universiteit van Pretoria