Wat doen ons met God se wingerd?

 

Markus 12: 1-12

 

 

In die gelykenis van die huurders gebeur ’n paar merkwaardige dinge. ’n Eienaar van ’n wingerd maak alles met groot moeite en teen groot koste gereed om wyn te verbou, en dan huur hy die wingerd uit. Wanneer die huur ingevorder word en die huurders verjaag sy agente, aanvaar hy dit gelate. Hy stuur telkens maar net weer iemand. Hy stuur selfs sy seun, met die wete dat hy doodgemaak kan word.

Hoe ironies is die gelykenis wanneer ons as die huurders van God se wingerd gesien word! God gee ons die heel beste, maar ons beskou dit nie as merkwaardig nie. So gou is sy genade nie meer spesiaal nie. God stuur sy Woord aan ons keer op keer. Op verskillende maniere. Deur die verkondiging, deur die Gees, deur die ouderling, die diaken, en ander gelowiges. En wat maak ons daarmee? Dit is nie merkwaardig nie. Ons leef die Woord dood. Ja, selfs wanneer Hy sy Seun stuur, kruisig ons hierdie Seun weer en weer deur nie te wil vergewe of liefde uit te leef waar ons kan nie.

Is dit wat ons hierdie jaar met God se wingerd gaan maak? Of sal God by ons die vrugte van geloof vind? Anders gesê: Hoe gaan hierdie gelykenis in my en jou lewe eindig wanneer die horlosie die paar laaste sekondes van 2016 aftel?

 

Prof Ernest van Eck

Universiteit van Pretoria