God is in beheer

 

Matteus 1: 1-16

 

Bevrees vir die toekoms? vra Matteus. Geen rede daarvoor nie, gaan kyk maar net na die verlede. Want God het op ’n keer ’n Messias belowe deur die bloedlyn van Abraham, en Hy het sy woord gehou. Desnieteenstaande dit wat die mense – wat Hy gebruik het om die Messias gebore te laat word – gedoen het. God het sy woord gehou, niks kon Hom keer nie.

Nie eens ’n Abraham, die vader van sy volk, wat meer as een keer ’n blatante leuen vertel het om uit die moeilikheid te kom nie; of ’n Jakob wat eintlik maar skelm was nie – hy het immers nie net sy broer verkul, vir sy pa gejok en later sy oom bedrieg nie; of ’n Juda, wat met sy skoondogter ’n onbehoorlike verhouding gehad het; of ’n Dawid wat owerspel gepleeg het; of ’n Manasse wat sy eie seun as offer verbrand het; of sy seun Amon wat God openlik verwerp het nie. Lees maar net die laaste Naam op die lys van Jesus se geslagsregister. Ten spyte van al die tekortkominge en misdrywe van sy voorgeslagte, is die laaste Naam op Matteus se geslagsregister die eerste een wat belowe is: Jesus Christus.

God bly in beheer. Matteus 1: 1-16 wil onder andere vir ons sê: God hou sy beloftes. En as jy nie wil glo nie, gaan kyk maar self. Kyk in die krip: Hy is daar. In die graf: Hy is nie daar nie! God se beloftes hou stand. Hy is in beheer! Ons kan oor die jaar wat voorlê opgewonde raak, want God is in beheer – ook van my en jou lewe.

 

Prof Ernest van Eck

Universiteit van Pretoria