Geloof en gehoorsaamheid

 

Johannes 4: 43-54

 

Vers 43 sê dat Jesus ná die twee dae na Galilea vertrek het, met ander woorde op die derde dag, wat staan in die teken van Christus se opstanding uit die dood. Deur hierdie skryfstyl skep die skrywer afwagting – iets goeds gaan gebeur.

 

Vir twee dae het Jesus by die Samaritane gekuier. Hulle het tot geloof in Hom gekom. Hulle het besef dat Hy van universele betekenis is, dat Hy nie net vir die Jode gekom het nie.

 

Op die derde dag vertrek Hy na Galilea, eers na Nasaret waar Hy grootgeword het, en daarna na Kana waar Hy die water in wyn verander het. Die nuus dat Jesus in Kana was, het vinnig versprei, selfs 25 kilometer verder tot in Kapernaum, die tuisdorp van Johannes en Jakobus.

 

Hier het ’n regeringsamptenaar in diens van Herodes Antipas gewerk. Hy het hom na Kana gehaas om Jesus te versoek om sy seun te kom gesond maak. Hierdie man het vertroue in Jesus gehad, maar hy was daarvan oortuig dat Jesus fisies teenwoordig moes wees en dat aanraking moes plaasvind. Verder het hy geglo dat Jesus geen mag anderkant die dood sou hê nie.

 

Sy geloof kan as ’n naïewe geloof beskryf word, ’n geloof wat beperkings plaas op Jesus se mag. Ná ’n sagte teregwysing deur Jesus, maak hy sy hart oop, en as heiden spreek hy Jesus aan as Here. En dan, op daardie oomblik, gebeur die wonder as Jesus vir hom sê: Gaan maar huis toe, jou seun lewe.

 

Iets merkwaardigs gebeur, want hierdie man se naïewe geloof groei tot ’n hoër vlak. Hy glo wat Jesus vir hom sê, en hy gaan. Jesus stuur hom met leë hande terug, met slegs ’n woord, ’n toesegging, maar vir hierdie man is dit genoeg.

 

Jesus is immers die Woord wat mens geword het, sy woorde is lewegewend, dit herskep en genees. Ware geloof is niks meer nie as om jou in te laat by die beloftes wat Christus gee en dit vir jouself toe te eien. Ware geloof word weerspieël in onmiddellike gehoorsaamheid met verrykende gevolge.

 

Gesang 498: 1-2

 

Ds Petri de Kock

Pierneef