Selfs al betree ek die dal van doodskaduwee

 

Psalm 23

 

Die boek van die Psalms dek die hele terrein van die menslike gevoelservaring – van diepe terneergedruktheid tot uitbundige vreugde. Die Israeliete van ouds het dit gelees en in die tempel gesing, en krag en versterking daaruit geput. Ons lees dit vandag nog, en ook ons word daardeur vertroos en opgebeur.

 

In ons moderne eeu word ons ontroer deur dieselfde emosies en word ons deur dieselfde lewensvraagstukke gekwel. In nood of in aanbidding roep ons tot dieselfde God as die Israeliete van ouds. Ons identifiseer maklik met hul suiwer en vasberade geloof. Maar die meerdere kennis waaroor ons ná die Christusgebeure beskik – is dit iets wat in ons lewens sigbaar is?

 

Droefheid en hartseer is van die emosies wat beleef word ná die afsterwe van ’n geliefde. Navorsing dui daarop dat gelowiges vastigheid en sekerheid in sulke tye soek, en hulle soek dit dikwels in die Skrif. Dit is verstaanbaar, want as ’n mens snap wat die Skrif oor die dood en daarna sê, kom daar gewoonlik berusting en ook weer nuwe moed om aan te gaan.

 

Daar is ’n groot verskil tussen die Ou en Nuwe Testament wat betref die beskouing oor die dood en daarna. Die Ou-Testamentiese gelowiges het hoegenaamd géén verwagting gehad vir iets aan die ander kant van die graf nie. Maar dit het geensins afbreuk gedoen aan die opregtheid van hul geloof en die diepte van hul liefde vir God nie. ’n Mens sien dit in die vierde vers van Psalm 23: Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie (Ou Afrikaanse Vertaling). Hierdie woorde spreek van ’n kinderlike vertroue in God wat ’n gevoel van geborgenheid meebring. My God is so groot en goed dat Hy selfs in die dood – met al sy vreemdheid, vyandigheid en afskuwelikheid – nog die goeie aan my sal kan doen.

 

Gesang 577: 1, 3, 4

 

Ds Petri de Kock

Pierneef