U het my van die dood gered

 

Psalm 116: 1-14

 

Die woorde van die psalmdigter, U het my van die dood gered... Ek kon voor die Here bly wandel in die land van die lewendes (verse 8 en 9), moet teen die Ou-Testamentiese agtergrond verstaan word. Hy praat van die gewone aardse dood. Die digter was waarskynlik bitter siek, hy het dalk op die rand van die dood gestaan. Maar God het hom van die dood gered, hom gesond gemaak sodat hy langer kon bly lewe. Vandaar sy diepe dankbaarheid.

 

Ons sing dikwels hierdie psalm by die Nagmaaltafel. As ons die woorde op ons lippe neem, heg ons egter ’n baie dieper waarde en betekenis daaraan. Vir ons dui hierdie woorde nie op die gewone aardse dood nie. As ons dit by die Nagmaaltafel sing, dink ons aan Christus se lyding en sterwe in ons plek. As ons dit sing, is ons diep dankbaar, want ons het verlossing van die ewige dood hier in gedagte.

 

Christus het vir ons die groot verskil kom maak. Hy het in alles aan ons gelyk geword – selfs tot in die dood met sy vreemdheid en vyandigheid. Maar sy Vader het Hom uit die dood opgewek om só aan elke mens hoop en verwagting te gee – méér nog, geloofsekerheid van lewe aan die ander kant van die graf.

 

Op die oomblik toe Christus uit die dood opgewek is, het die strale van ’n nuwe dag oor elke mens begin skyn. Christus is immers die Eersteling uit die dood, wat impliseer dat ’n tweede en ’n derde Hom hierin sal volg. Omdat Christus uit die dood opgewek is, daarom sal ons ook opgewek word.

 

Deur Christus het daar vir ons onbeskryflike verlossing gekom. Vir ons wat bestem was vir die dood, die ewige dood, vir ons word daar nou plek voorberei in die Vaderhuis. Want Christus het die bande van die dood verbreek, Hy het ook ons bande losgemaak, Hy het ons vrygemaak. Nou eers verstaan ons die psalmdigter se woorde: Die Here is genadig en regverdig, ons God ontferm Hom oor ons (vers 5).

 

Gesang 581: 1, 4; Gesang 417: 1-2

 

Ds Petri de Kock

Pierneef