Verwag niks, dan is daar niks...

 

Johannes 2: 1-11; Lukas 3: 21-22

 

In die vroeë kerk was Epifaniefees een van die grootste feeste – tweede naas Paasfees. Derde was Pinkster, en niemand het voor die vierde eeu daaraan gedink om Kersfees te vier nie. Die vraag is: Waarom was Epifanie toe so belangrik, en waarom is dit nou minder belangrik?

In die dae van die vroeë kerk, toe Epifanie ’n groot fees in die kerk was, is nie net die openbaring van Jesus by sy geboorte gedenk nie, maar ook die openbaring tydens sy eerste opgetekende wonderwerk – water wat in wyn verander – asook die openbaring van Jesus as die Seun van God tydens sy doop. Hierdie drie wonders was genoegsame openbarings van wie Jesus was, sodat daar rede was om fees te vier.

Dat ’n baba gebore is en neergelê is in ’n krip, was relatief onbelangrik as dit vergelyk word met die gebeure wat aan die wêreld gewys het wie hierdie Baba was. Jesus se gesag groei juis deur die wonders wat Hy gedoen het. Hierdie wonders was God se manier om te sê: Kyk mooi! Hier is my Seun! En Epifanie was die kerk se manier om te sê: En as gevolg van hierdie Seun kan ons nooit weer dieselfde wees nie!

Waarom dan nie meer fokus op die Epifaniefees nie? Dalk is die grootste rede die feit dat ons nie meer verwag dat God in ons lewens geopenbaar sal word nie. En omdat ons niks verwag nie, kry ons presies wat ons verwag. Niks. Die vroeë kerk was vol verwagting en opgewondenheid. Hulle het Jesus se spoedige terugkeer verwag. Hul geloof was vir hulle alles in die aangesig van vervolgings. Die punt van Epifanie vir die vroeë kerk was nie om die geskiedenis te onthou nie, maar om daaraan herinner te word dat God wonderbaarlik aan ons verskyn op plekke en maniere waar ons dit nie verwag nie. As ons onthou dat God onverwags kan verskyn en as ons aanhou verwag om God te sien oral waar ons gaan, kan ons dalk net gereed wees as God Homself aan ons openbaar.

Ds Jimmy Manders

Witfontein