’n Verleentheid word ’n geleentheid

 

Johannes 2: 1-11

 

Die bruilof in Kana was geseën met baie gaste. Almal was daar. Die bruidegom en die bruid, ’n bekommerde seremoniemeester, Jesus se ma en dissipels, ’n klompie gehoorsame kelners en Jesus self was deel van die bruilof. Die bruilofsfees was al goed op dreef. Toe, ’n verleentheid – die wyn vir die partytjie is op. Maar slegs ’n paar was bewus van die probleem. Jesus se ma bring die verleentheid na Jesus toe.

Min het opgelet en besef dat die onmoontlike moontlik geword het. Min het besef dat die wyn skielik weer mildelik gevloei het en dat dit links en regs uitgedeel is. Daardie dag het almal deel gehad aan die beste van die beste en dit nie eens geweet nie. Net ’n paar verdwaasde, gehoorsame kelners wat water in die ses klipkanne gegooi het en Maria het geweet wat Jesus gedoen het. Skielik was daar, in vandag se mate, nagenoeg 770 bottels van die beste wyn. Selfs die onvoorbereide bruidegom en al die gaste was onbewus van ’n wonderwerk waaroor daar sedertdien al vir 2 000 jaar gepraat word. Jesus kies iets so eenvoudig soos om wyn by ’n bruilof te voorsien, om te dien as teken van God se genadige ingrype. Hoeveel te meer sal Hy ons nie in die groter dinge van die lewe wil bystaan as ons dit na Hom toe bring nie!

As ons wil sien hoe verleenthede geleenthede word, soos vir die bruidegom van Kana, dan sal ons moet begin om te verwag dat die Here ook vir ons wil help en bystaan – selfs in die dinge wat ons mag dink té gering is om vir die Here te vra. Ons sal op die uitkyk moet wees vir die Here se ingrype. Hoeveel keer berei jy jouself voor, deur God te vra om met jou te praat deur die preek by die kerk; selfs deur ander lidmate in die gemeente? Hoeveel van ons verwag eerlik ’n lewensveranderde ontmoeting met God? Verwag dat die Here ook in jou lewe wil voorsien.

Gebed

Vader, omskep ook my verleenthede in geleenthede. Amen.

Ds Jimmy Manders

Witfontein