Geloofsgeheueverlies

 

Markus 8: 1-10

 

Ly aan geheueverlies en jy is verward op soek na die waarheid, na wie jy nou eintlik is. Tog, al kan ons almal mooi onthou, ly ons soms aan ’n eienaardige soort geheueverlies, meer spesifiek, aan geloofsgeheueverlies. Dit gebeur wanneer jy al die bewyse het dat die Here ongelooflik goed is vir jou, dat Hy jou oorvloedig seën, en dan in ’n oogwink vergeet jy wat Hy alles vir jou gedoen het. Jy getuig die een oomblik nog dat die Here jou oneindig liefhet, en dan kom daar ’n struikelblok op jou pad en jy kan niks daarvan onthou nie. Vrees kom steel jou geloof.

Israel het geloofsgeheueverlies gehad, want hulle moes kort-kort herinner word aan alles wat God reeds vir hulle gedoen het. Jesus se eie dissipels ly daaraan, ten spyte daarvan dat hulle Jesus in aksie sien as Hy wonderwerke doen. Ons ly daaraan en daarom moet ons ook herinner word aan wat God alreeds vir ons gedoen het, maar ook aan wat God vir ons wil doen. Nadat Jesus vir meer as 5 000 mense kos gegee het, het die tweede geleentheid van 4 000 honger mense hom voorgedoen. Jesus se hart gaan weer eens uit na die mense. Maar sy dissipels reageer: Waar sal ’n mens in hierdie verlate gebied genoeg brood vir hulle kan kry? Hoe kon hulle dit vra? Hoe op dees aarde kan hierdie dissipels nie onthou nie? Na al die dinge wat hulle self gesien en ervaar het, saam met Jesus, tree hulle op asof Jesus nog nooit in sy ganse lewe ’n wonderwerk gedoen het nie!

Ons is presies dieselfde. Ons ervaar God se aanraking en wonderwerke in moeilike situasies, en dan slaan geloofsgeheueverlies toe. Ons huidige situasie is so oorweldigend dat ons vergeet hoe God ons in die verlede gehelp het. Mag ons vashou aan die Here en met vaste vertroue en in geloof weet dat God altyd getrou teenwoordig is: Hy sal voorsien, soos Hy nog altyd het!

Ds Jimmy Manders

Witfontein