God openbaar Hom in wat Hy doen

 

Jeremia 31: 1-14

 

Jeremia vertel die verhaal van God se volk in ballingskap. Dan lees ons in Jeremia 30: 3: Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander en hulle sal terugbring om die land te besit wat Ek aan hulle voorvaders gegee het, sê die Here.

Die volgende hoofstukke vertel die verhaal van God se handelinge met sy volk wat sy liefde en trou bevestig. Die volk wat in ballingskap begin twyfel het oor die bestaan van die God van hul voorvaders, sien weer God se liefde in dit wat Hy doen. Israel word uit ballingskap bevry, kinders word vir hulle gebore, die land lewer koring en olie en wyn, en mense se droefheid verander in blydskap. Hulle sal kom en op die Sionshoogte sing, hulle sal straal van blydskap oor die goeie wat deur die Here gegee word (Jer 31: 12).

In die Nuwe Testament lees ons ’n ander verhaal van God se liefde. Johannes 3: 16 sê: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God maak Homself sigbaar in dit wat Hy doen – soms in die groot en opspraakwekkende dinge van die lewe soos die verlossing uit ballingskap en die geboorte van Jesus Christus in Betlehem. Maar Hy maak Homself meermale elke dag in die klein dingetjies van die lewe sigbaar. In die dingetjies wat ons nie altyd aan God se liefde en sy genade toeskryf nie, maar aan die toeval van die lewe of ons eie beplanning, of geluk.

Ons moet dit nie net raaksien nie, ons moet God ook daarvoor loof en prys! Ons moet straal van blydskap oor die goeie wat deur die Here gegee word. En ons moet daarvan getuig en dit in die wêreld vertel.

Gesang 509: 1, 2, 4

Ds Eksteen Botes

Nelspruit