Ek is besig…

 

Lukas 2: 49

 

…met die dinge van my Vader. Aldus die 12-jarige Jesus in die tempel. Dit was normaal dat ’n seun in die jaar voor sy Bar Mitzwa deur die tempelvaders ondervra word, maar hierdie finalejaarkatkisant se kennis en insig was buitengewoon, verbasend Goddelik. Opvallend was sy absolute sekerheid van sy lewenstaak en die oorgawe waarmee Hy op jong ouderdom dit al gesê en geleef het: om besig te wees met die dinge van sy Vader, om vir die mensdom te wys hoe lyk die koninkryk van God.

Sy lewe sou hierdie teken dra, gefokus op sy werk, heeltyd. Nooit aanspraak gemaak op erkenning of beloning, of gevis vir bejammering nie. Nie een keer gewildheid gesoek nie – Hy dryf eerder die geldmakers uit die tempel uit. Nooit daarop aangedring om bedien te word nie, heeltyd self die voorskoot aangehad, dienend, prekend, vertroostend, voetewassend en helend.

So verskriklik anders as ons! Ek wil maar raakgesien en gereken word, my menswees meet aan mense se terugvoer, my energie put uit ander se goedkeuring en belonings. Ek is gelukkig en voel spesiaal, die moeite werd, as my omgewing positief reageer op wat ek doen en hoe ek lyk. Gevangene van my eie soeke na sin.

Die Jesuskind, Immanuel, se maatstaf van menswees vir lewensin is gewoon: Wees besig met die wil van jou Vader. Soek dit, dink dit, praat dit, wys dit, heeltyd! Dit is lewe! Dit is lewensles nommer een. Ons Vader wil hê ons moet LEWE! In Jesus het Hy só naby aan my gekom dat ek my lewensdoel hééltyd aan sy wil kan meet.

Ds Pierre Jacobs

Outeniqua