Lewensles nommer twee

 

Matteus 7: 12-14

 

So asof Jesus die volgorde van die Groot Gebod herrangskik. As jy die Here jou God dan liefhet met jou hele hart, siel en verstand, maak dit ’n beginsel om jou naaste lief te hê soos jouself. Soos jy vir jouself verwag, gaan doen dit eerste. Alles in die wet en profete (en Evangelies) is hierin opgesluit. Dit, nie om beloon te word nie, maar juis omdat jy teenaan ’n God leef wat jou eerste liefgehad het, omdat jy na ’n goeie verhouding met Hom smag. Omdat dit jou lewensdoel is om nou al in die koninkryk van God te leef.

Dit is die smal pad! Min kry dit reg. Want dit is teen ons grein in om self te offer, vooruit te betaal, te gee sonder om terug te vra, te vergewe omdat ek self uit genade leef. Die pad van die global village is net te oorweldigend anders. Jou eie wil en waarvoor jy nóú aptyt het, bepaal jou optrede. Die norm is die goedkeuring van die massale wêreld wat tot in my huis gekom het, almal doen dit mos, dis mos goed so. Tot die gier môre weer verander na ’n nuwe riel. En ek word meegesleur na die waterval, gevangene soos ’n nat kat op my stomp van tydelike veiligheid, waarop God nie is nie. Na ’n plek toe van groter Godsafwesigheid.

Hierdie smal pad is egter moeilik, want dit vra selfoordeel. Ondersoek jouself heeltyd of Christus in jou is, of jy die toets van geloof deurstaan, of God nou hier is waar jy besluit, beplan, antwoorde gee, kind grootmaak, met jou vrou praat, die karwag groet. Dit vra dissipline en geloofsekerheid om die regte ding voor God te doen, dit gereeld te doen en dit te bly doen. Ek weet mos ek is op pad met God wat by my is.

’n Ongelowige Romeinse heerser, Alexander Severus, wat hierdie lewensreël op sy kamerdeur gespyker gehad het, het op ’n keer vir ’n groep kerkmense gesê: Óf hierdie is nie evangelie nie, óf julle is nie Christene nie.

’n Reël op die smal pad wat jou lewe soveel meer sin gee: Doen eers aan ander… want God het mos al klaar aan my gedoen.

Ds Pierre Jacobs

Outeniqua