Steur jou aan God

 

Genesis 48: 21

 

Een van die belangrikste lewenslesse wat Josef uit sy pa se lewe geleer het, was dat daar ’n waarheid in die lewe is wat groter is as jyself, as jou planne, jou swaarkry, jou lekker, selfs groter as jou lewe. Die Waarheid van God. Josef het van kleins af daarmee rekening gehou, al was dit nie altyd die voorbeeld wat hy by sy pa gesien het nie. Dat daar ’n God in jou lewe is wat in beheer is, almagtig, voorsienend, alwetend, heeltyd. Dit is raadsaam om jou aan Hom te steur.

Josef het van jongs af besef God het hom uitgekies om ’n spesiale pad te stap, daarom het hy hom aan God gesteur – anders as sy broers – en het hy sy pa se vertroueling geword. Daarom het hy sy drome onbevrees oorvertel, die put oorleef, hoofamptenaar in Potifar se huis geword, Potifar se vrou weggewys, tronkowerste en onderkoning in ’n vreemde land geword. Daarom kon hy sy broers vergewe en, soos God dit beplan het, leefplek vir sy mense gee.

Dit ís tog een van die belangrikste lewensbeginsels: Groter as my kindertyd, as my plek in my gesin, as my prestasies of mislukkings, as my diepste seerkry of hoogste sukses, as my planne en drome, as die samelewing se reëls en voorskrifte van hoe dinge eintlik moet wees, is hierdie Waarheid dat daar ’n God in my lewe is wat wéét. Wat in Christus en deur sy Gees heeltyd in my gesig wil wees.

Die keuse is myne om my soos Josef aan hierdie God te steur, te luister, te hoor, te volg. Nie ’n keuse omdat ek dink aan straf of hemel toe gaan nie, maar omdat ek ’n sinvolle lewe voor God wil leef soos wat Hy dit bedoel het met my. Ek kan kies om slagoffer te word van my omstandighede, verlede en mense se vereistes, of kies om die pad van Waarheid saam met die Woord en Weg en Waarheid te loop.

Gesang 207: 3

Ds Pierre Jacobs

Outeniqua