Vrede! Solank hiérdie vuur brand

 

Lukas 12: 49-53

 

Daar is ’n Russiese spreekwoord: Vrede in die lewe is as jy iets goeds het om te doen, iemand het om voor lief te wees en iets het om na uit te sien.

Vrede op aarde, vir die mense in wie Hy ’n welbehae het. So het ons ’n maand gelede gesing oor die Jesuskind. Wees altyd bly in die Here! hoor die mense in Filippi by Paulus, want die Here het gekom en Hy kom beslis weer! Maar dan die ontnugterende woorde van Jesus aan die werk: Vrede? Nee, vuur kom Ek aansteek, en Ek wens so dit brand al! Is dit ’n anomalie, ’n weerspraak? Glad nie.

Ons verwag: Hierdie vrede gaan net gebeur, so oor ons neersak. Al die vye gaan vet wees, die skurke gaan nie uit die bos uitkom nie, die regering gaan regverdig en bekwaam wees en ek sal rustig voortgaan met my lewe sonder beurtkrag of muskiete. Jesus bedoel: Hierdie vrede impliseer offer, ’n offer wat uiteindelik bevredigend is.

Sy hele lewe word een groot offer, van teenstand en verwerping en pyn tot die dood toe, maar soos ’n doop waarmee Hy deurgaans gedoop word, wat skoonmaak en oorwin. Die uiteinde – God se wil het geskied. Sy lewe is vir Hom goed, want Hy weet Hy is besig met dit wat vir God goed is en sin maak, en Hy is omring deur mense waarvoor Hy innig lief is. Hy sien heeltyd uit na iets beter. As Hy klaar is hier, gaan die vuur van die Gees van God brand en die mense sal weet hoe dit in die Koninkryk van God lyk.

Vrede? Geluk? So tussen Hemelvaart en Wederkoms, op ’n stukkende aarde? Ek sukkel. En tog hét ek iets goeds om te doen, só baie mense om voor lief te wees en so baie om na uit te sien! Hoeveel van myself, my eie ek, moet hierdie vuur dan eers in my wegbrand, oopbrand, skoonbrand voor ek sinvol begin leef, en begin liefhê en begin om opgewonde te wees oor wat kom… en Vrede te beleef?

Ds Pierre Jacobs

Outeniqua