Goedkoop mossies?

 

Matteus 10: 26-31

 

Verseker nie vir God goedkoop mossies nie. Jy kon nie net een mossie koop nie, daar was nie kleingeld vir ’n sent nie, jy moes twee vat. In Lukas word selfs ’n spesiale prys genoem, vyf vir twee sent. In mensewaardes nikswerd, maar nie een sal val as God dit nie weet nie. Baie waarde in ’n mossielewe!

Ons is tog so nougeset op ons dinge wat geldwaarde het, ons nommer ons skape en karre en ons sluit ons getelde geld toe in kluise of belê dit in geldplanne en gaan die groei gereeld na. Terwyl die Hemelse Vader volgens Jesus by wyse van spreke elke haar op ons kop tel. Hy weet heeltyd alles, sorg heeltemal, hééltyd, al gaan dit hóé, al staan ek voor wie onder aanklag! Al voel ek minder werd as ’n sent. Al het ek in die pad gekom van onreg of korrupte bedoelings wat die lewe uit my wil wurg. Al kreun ek onder die gevolge van my eie foute of verouderende of siek liggaam, Hy sorg steeds sodat ek my doel kan dien en sal kom waar ek moet. So leer Jesus: Moenie bang wees dat hierdie "doodmaakgoed" jou siel vat nie. Moenie dat dit jou laat vergeet dat God hiér is nie, in beheer, voorsienend, versorgend, so naby dat jy dit mag beleef. Moenie paniekerig gryp na goedkoop oplossings asof God nie hier is nie, jou geloofsekerheid kan lelik seerkry, jy kan skielik dink: Vir mý is God nie meer hier nie, so goed as om jou siel te verloor.

Die waarheid is, sê Jesus, Hy weet deurgaans alles! En al wil die wêreld die waarheid in die donker en geheim hou, ons lewens moet dit van die dakke af uitbasuin! Soos die mossies dit elke oggend met soveel oortuiging doen!

Ons bely die Waarheid: God het in Christus in hierdie lewe ingebreek, Hy is nou hier om te sorg en te vergewe, dat ek die oorwinnende vrede van sy Koninkryk kan beleef. Skree dit elke dag met jou lewe uit! Dan hoor jy dit self ook heeltyd.

Ds Pierre Jacobs

Outeniqua