So verblydend naby

 

Filippense 4: 4-7

 

Die wonder van Christenwees is die vaste wete dat God iets laat gebeur het en die konstante verwagting dat God iets gaan laat gebeur. Hy het ’n plan, jy sal sien. Hy sal sorg, Hy vergeet nie.

Paulus se raad uit die tronk uit aan mense wat begin twyfel as gevolg van dwaalleraars is: Moenie besorg wees nie, wees bly! Hierdie besorg wees is egter nie die Hakuna Matata, Don’t worry, be happy, Gods water oor Gods akker soort nie. Christelike besorgdheid is die verantwoordelikheid om elke dag versigtig en so goed as wat jy kan met alles om te gaan, dit is ’n opdrag. Besorgdheid wat gebou is op onsekerheid in jou eie vermoëns, of op twyfel oor wie jy voor God is, of die konstante vrees dat iets gaan skeefloop, so asof God nie in beheer is nie, asof Hy in Christus nie ’n oplossing bied nie, dit is egter verwoestend.

Een van die grootste siektes van ons tyd is die onsekerheid van die mens oor sy herkoms, oor wie hy is, waarheen hy gaan. Omdat hy die beginsels van sy menswees voor God vergeet: sondaar, begenadig, oorwinnaar in Christus, dankbaar, koningskind. Dan raak hy vasgevang in sy onseker vrees, word die gedagte van God se nabyheid vir hom verskriklik.

Die apostel se raad om hierdie onsekerheid te oorkom, is: Wees eerstens altyd bly in die Here! Praat met Hom oor jou behoeftes. Biddend met jou hele lewe wat jy netjies, verantwoordelik en met liefde leef. Smekend, nie kruipend nie, maar begenadig, terwyl jy weet jy is nie die belangrikste een in hierdie verhouding nie. Dankseggend, omdat jy weet Hy sal laat gebeur soos Hy weet die beste is. Dan leef jy met die vrede wat alle verstand te bowe gaan, die blye sekerheid dat God in Christus naby gekom het in jou lewe. Iets om voor te lewe!

Ds Pierre Jacobs

Outeniqua