Sy eie mense het Hom nie aangeneem nie

 

Johannes 1: 1-14

 

Epifanietyd, waarbinne ons ons tans bevind, is op baie plekke die derde grootste feesgeleentheid in die kerk. Dit gedenk die menswording van God in Christus en die ontmoetings wat Jesus met mense gehad het. Die Seun van God het tot by mense gekom.

Soms meen mense dat God ver en verwyder is van sy skepping. Dié opvatting berus dikwels op die misverstand dat God se werk vir almal as groot en magtige dade sigbaar en verstaanbaar moet wees.

Die Johannes-evangelie gee ’n ander perspektief. Die Woord is aan die kom na die skepping toe. Daar is nie sprake van geweldige versteurings in die natuur nie. Die son staan nie stil nie en niks val uit die hemel uit nie. Nee, die koms van die Here na sy eiendom toe maak dit moontlik om sy heerlikheid raak te sien in die alledaagse kontak tussen die Seun en die mens. Dit is ’n genadige binnekoms van Hom wat na sy eiendom toe kom en nie nodig het om sy mag met opspraakwekkende vertoon te bewys nie. Só bring Hy die lig na die wêreld toe. Só is Hy die lig vir die wêreld.

Juis daarom, aangesien Hy rustiger, genadiger en kalmer toetree as wat die wêreld dink ’n heerser behoort te doen, erken die wêreld Hom nie. Selfs van sy eie mense, dié wat in die genade van God geleef het en die openbaring van God in die Ou Testament ken, het Hom nie aangeneem nie.

Geloof in die koms van Jesus en ’n verstaan van die Epifanietyd verwag van ons insig in die troosvolle koms van die Here wat in duisternis die lig is. Dit maak nie saak hoe moeilik ons wêreld lyk nie, hoe donker ons omstandighede is nie – geloof in Christus verbind ons aan die Verlosser vir wie lyding in die wêreld nie vreemd is nie. Hy ken sy mense, selfs in hul moeilikste omstandighede. Wanneer ons dit weet, breek die lig vir ons deur.

Ds Nicolaas Steenekamp

Middelburg