Sinisme in die Skrif?

 

Prediker 3: 18-22

 

So kalmerend as wat die beelde van Psalm 23 op ’n mens inwerk, so verontrustend is die boek Prediker met sy kritiese realisme. Talle gelowiges deur die eeue het al die vraag gevra waarom die boek Prediker in die Bybel opgeneem is. ’n Mens moet toegee dat die boek negatief oorkom. Wat is meer pessimisties as die stellings: Alles kom tot niks en Dit is ’n gejaag na wind? Albei hierdie uitroepe klink soos ’n refrein deur die boek.

 

’n Mens kry egter groter begrip vir die boek as jy verstaan hoekom dit tot stand gekom het. Prediker is geskryf uit protes teen die skema waar God die goeie beloon en die kwade straf volgens ’n vaste patroon. Die gelowiges in die Prediker se tyd het al besef voorspoedgodsdiens is vals. Om die Here te dien, beteken nie dat jou pad altyd gelyk sal wees nie. Die boek Job is hiervan ’n treffende voorbeeld. Die boek Prediker met sy pessimistiese inslag het dus balans gebring in die wysheidsliteratuur.

 

Die boek Prediker se realisme slaan sterk deur as gevra word: Wie weet of die asem van die mens opstyg boontoe en of die asem van die dier afgaan onder toe? (vers 21). Daar was praatjies in die Prediker se tyd: Het jy gesien hoe daardie persoon se asem opstyg toe hy gesterf het? Die insinuasie was dat ’n mens ’n siel het wat by God voortbestaan, maar dat ’n dier geen siel het nie – daarom gaan sy asem af onder toe.

 

Die boek Prediker sê dis nonsens! Die antwoord op sy vraag Wie weet...? is ’n dawerende Niemand! Tot vandag toe is daar geen wetenskaplike bewyse dat ’n mens ’n “siel” het wat ná afsterwe opstyg boontoe nie. Die Prediker was korrek toe hy gesê het die mens sterf op sigwaarde net soos die dier, een en dieselfde lot tref albei. Dood is dood – klaar.

 

Maar God het mag oor lewe en dood, en Hy kies vir ons die lewe. Dit is wat die Christusgebeure ons leer: Daar is geen sinisme nie – net genade.

 

Gesang 583: 1-2

 

Ds Petri de Kock

Pierneef