Ons het self na Hom geluister

 

Johannes 4: 1-42

 

Die aangrypende vertelling oor Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou bring by uitstek die gevolge van sy ontmoeting met verstote buitestanders na vore.

Onthou mooi wie die vrou was. Sy was ’n paar keer getroud. Of sy weduwee geword het of deur egskeidings is, haar sosiale posisie was benard. Sy was uitgesluit van ’n normale gemeenskaps- en geloofslewe op grond van die stigma wat aan haar gekleef het as een wat nie haar man kon behou nie. (Die Samaritane het die vyf boeke van Moses gelees en op grond van die wet waarskynlik ook binne hul gemeenskap neergesien op sulke vroue.) Ten laaste was die verhouding met die man waarmee sy nou saam was, nie wettig bevestig nie (verse 17 en 18). Tog is sy die gestuurde om Jesus suksesvol aan haar dorp se mense te gaan verkondig. Suksesvol? Ja – hulle het geglo op grond van wat sy hulle vertel het.

Die ontmoeting met die Here het ook in ons lewe tot gevolg dat ons kan verkondig, al is ons die onwaarskynlikste kandidate in ons eie of ander se oë! Die ontmoeting met die Here maak van mense gestuurdes. Wat egter verder belangrik is, is dat die geloof in Jesus is en nie in die gestuurde nie. Die verhouding met die verkondiger vervang nie die ontmoeting met die Here self nie. Ons het self na Hom geluister, en ons weet... Juis daarom is die verhouding met gestuurdes – predikante, onderwysers, ouers of wie ook al – van minder belang as die verhouding met Christus.

Hierdie gesprek by die put gee dus na twee kante toe troos. Eerstens mag ek vrymoedig getuig dat die Here Jesus Christus die Een is wat na die wêreld toe moes kom, sonder dat my persoonlike omstandighede – selfs sosiale isolasie – my behoort te belemmer. Tweedens is dit ook troosvol dat ek en die hoorders weet dat dit nooit oor my gaan nie, maar oor die geloof in Christus. My verkondiging as gelowige mag bloot geloof in Christus tot gevolg hê. Geloof lewe immers waar mense self na Christus luister.

Ds Nicolaas Steenekamp

Middelburg