Hy het self geweet hoe mense is

 

Johannes 2: 23-25

 

’n Oordenking van die Epifanie as ’n herdenking van die koms van die Seun van God na die mensdom toe, sou nie volledig wees sonder hierdie skadukant uit Johannes 2 nie. Hoe vreeslik is dit nie! Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. Wat die woorde so diep laat sny, is die opmerking dat die mense gelowig geword het op grond van die wondertekens. Hulle wat Hom gesien en gehoor het, is dikwels getref deur wie Hy was en wat Hy gedoen het. ’n Gunstige reaksie en antwoord op Jesus se koms was sy lewe lank ’n werklikheid. Desnieteenstaande kon Hy Hom nie op die mensdom verlaat nie. Die sonde waarvoor Hy sy lewe as skuldoffer sou gee, wortel diep in die mens. Die duisternis in die mensdom, wat ook sou lei tot die verloëning van die Seun van God, is aan Jesus bekend – Hy het self geweet hoe mense is...

Vandag is dit steeds so dat geloof maklik bely word. Geloof word vir sommige ’n kitsoplossing vir probleme of verhoudings. Geloof word so dikwels aangegryp met die hoop dat dit vinnige resultate in mense se lewe tot gevolg sal hê. Soms is dit wel so. Ander kere nie. Dit is in die tye wanneer die swaarkry voortduur en resultate uitbly dat ons onsself moet afvra: Wat glo ons werklik? Is ons gelowig ter wille van ’n wonderwerk in ons lewe of op grond van die glorie van wat na wonders lyk in ander mense se lewens? Is dit korrek om ter wille daarvan te glo?

Laat ons onsself eerder afvra: Kan die Here Hom op mý verlaat? Is ék betroubaar in my belydenis, in my lewe as getuie, in my doen en late as dissipel van Christus?

Epifanie konfronteer die kerk nie net met die glorie en die heil van die koms van die Seun na die mense toe nie, maar ook met onsself. Dit konfronteer ons ook met ons ontrou, ons verkeerde verwagtinge, ons kortstondige en oppervlakkige geloof.

Ds Nicolaas Steenekamp

Middelburg