’n Persoonlike verhouding met God

 

Job 42: 1-6

 

Job verdeel sy lewe in twee tydperke: Die eerste is die tyd voor die rampe en ellende hom getref het, en die tweede is die tyd daarna. Job praat van ’n tot nou toe-tydperk en dan weer van ’n maar nou-tydperk. Die vraag is: Hoe het die eerste tydperk gelyk? Daaroor sê Job dat Hy God geken het deur dit wat hy by ander mense gehoor het. Waarna verwys hierdie woorde? Wat het Job by ander gehoor? Hierdie frase verwys na die vergeldingsleer, na die heersende "kennis oor God": Voorspoed beteken God is tevrede met jou lewe en daarom seën Hy jou. Teenspoed is God se straf vir jou sonde.

Vandaar die gevolgtrekking: Job het kennis van God gehad, al was dit ongeldig. Dit beteken nie noodwendig dat iemand God werklik ken uit ander se menings nie. Kennis van God impliseer ook nie ’n heel en persoonlike verhouding met God nie. Dit is dus problematies wanneer ons kennis van God eindig by wat ons van Hom by ander hoor. Ons geloof en ons verhouding met God moet by die maar nou-tydperk uitkom. Die tydperk waar ons self deur worsteling en gesprekke met God leer wie God waarlik is. Ons verhouding met God word meer as net kennis van Hom juis wanneer ons worstel met Hom. Ons moet bereid wees om soos Job deur hierdie verhouding en worsteling met God ’n belydenis te kan maak oor God se grootheid, almag en trou.

Ons verhouding met God kan nie net gebaseer wees op dit wat ons van Hom hoor nie. Dit moet ook ’n persoonlike ontmoeting met Hom wees, sodat ons saam met Job kan bely: Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien.

Ds Retha Losper

Ogies