Nogtans-geloof oorwin wantroue

 

Habakuk 3: 1-18

 

Habakuk worstel met die vraag: Waarom moet goeie mense swaarkry? Die boek is ’n tweegesprek tussen Habakuk en God. Die profeet lei die gesprek in met die klag dat God onbetrokke is by die nood van regverdige mense. God word voorgestel as iemand wat afwesig is.

In die loop van die gesprek verskuif die profeet se verstaan en hy leer God ken as die God wat dikwels op vreemde maniere in die wêreld aan die werk is. Habakuk worstel met die feit dat dit vir hom klink of God stil geraak het en hy voel ongemaklik met die stilte. Wanneer die profeet die groot verlossingsdade van God in die verlede in herinnering roep, ontdek hy die geheimenis van ’n nogtans-geloof. Tydens die swaarkry en onderdrukking in Egipte en in Midian en Kusan kon God se vyande nie die oorwinning behaal nie. Ondanks hul swaarkry en God se oënskynlike afwesigheid, was God nogtans daar en het Hy vir hulle voorsien.

Ondanks die omstandighede waarin Habakuk hom bevind, ondanks God se oënskynlike stilte, kan Habakuk nogtans weet dat die God van die verlede ook die God van die hede is. In die chaos wat dreig om Habakuk se wêreld te oorweldig, bid hy. En God gryp in. Dit is wat die nogtans-geloof is: om ten spyte van die swaarkry en die stilte nogtans te bid en te vra dat God uitkoms sal bring. Wat moes eers met Habakuk gebeur het voordat Hy hierdie antwoord kon kry? Habakuk moes eers self stil word. Hy moes leer om God in die stilte te vind.

Raak ons so stil dat ons ons eie opinies opsyskuif? Raak ons so stil in gebed dat ons aan die verlede terugdink en gebeurtenisse kan herroep waar God reeds op vreemde maniere in my lewe aan die werk was? Mag dit dan ook so stil in ons word dat ons God in die stilte sal hoor praat, want dan en dan alleen sal ons sê: ...nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder (Hab 3: 18).

Ds Retha Losper

Ogies