Dinsdag 9 Februarie

Die liefde is ’n genadegawe

 

1 Korintiërs 13

 

In dié gedeelte lees ons van aardse lewe, maar ook van ’n ander lewe, waar dit wat nou vir ons belangrik en noodsaaklik lyk, verbygegaan het: die ewige lewe. Ons lees in 1 Korintiërs 12 van verskillende genadegawes wat God aan gelowiges gee om die gemeente te versorg. Party praat in tale, ander profeteer en nog ander genees mense. Die Korintiërs het gedink dié genadegawes maak hulle beter en belangriker as gelowiges wat dit nie het nie, en het liefdeloos teenoor mekaar begin optree. Hulle het vergeet dat ons aardse lewens verbygaan.

Ons fokus dikwels só op die aardse dat ons ook vergeet dis verbygaande en van beperkte waarde. Slegs God se liefdegawe is ewig en daarom van onbeperkte, onskatbare groot waarde! Die apostel gebruik twee beelde om hierdie lewe en die ewigheid te verduidelik. Lewe soos ons dit nou ervaar, is soos ’n kind met beperkte insig of soos ’n dowwe spieël wat ’n vae beeld gee. In die ewigheid is die ervaring volwasse, met volkome begrip, klinkklaar.

Die liefde is kosbaar en deel van albei lewens. Aardse, menslike liefde is egter beperk. Dit kom met voorwaardes, omdat dit in ons verhoudings dikwels gaan oor wat ons kan ontvang en nie noodwendig oor wat ons kan gee nie. God se liefde vir ons is totaal anders: Dit is oneindig, onbegrens en volmaak. In die ewigheid sal genadegawes soos profesie en gesondmaking oorbodig wees, maar die liefde sal noodsaaklik bly.

Mag ons in ons voorbereiding vir Lydenstyd, die herdenking van Christus se selfprysgawe, ja, van sy liefde, nie op die aardse fokus nie, maar op die hemelse gawe van die liefde. Die liefde maak die hemel hemels en die aardse lewe sinvol, heel en wonderlik! Maar onthou: Die liefde verg alles van ons. Dit is óns wat moet liefhê met ’n liefde wat alles bedek, verdra en vergewe! Liefde is selfprysgawe. Eers wanneer ons leeg word aan onsself en vol word van Christus se selfprysgawe, kan ons onsself prysgee. Dit is ons taak vir elke dag!

Ds Retha Losper

Ogies