Woensdag 10 Februarie (Aswoensdag)

Die stilte van geloof

 

Job 39: 36-38; 40: 1-5

 

Die uitdrukking om in sak en as te sit kom uit die verhaal van Job. Die betekenis kom wel eers aan die einde van die boek voor (Job 42: 6), tog is dié tema reeds aan die begin aanwesig (2: 8). Job was ’n vroom en opregte gelowige wat alles gedoen het wat die voorskrifte van ’n goeie gelowige vereis het. Maar dan word hy getref deur die een terugslag na die ander (Job 1 en 2), en in diep hartseer gaan sit hy op ’n ashoop en treur (2: 8).

Dit is egter nie waar dit eindig nie, want vir 35 hoofstukke probeer Job en sy drie vriende, Elifas, Bildad en Sofar, uitredeneer waarom hierdie swaarkry oor Job gekom het. En vir 35 hoofstukke is daar slegs leë argumente. Dan, van hoofstuk 38 af, spreek die Here self en Job word gekonfronteer met ’n reeks vrae wat hy nie kan antwoord nie.

Job se eerste reaksie daarop is gewoon die besef ek is klein, en dat hy sy hand oor sy mond wil plaas (39: 37). Maar dit is nie hierdie stilte-insig wat die Here soek nie. Hy begin weer vir Job ondervra, en Job en die lesers word gelei na die tweede reaksie (42: 1-5). Dit is hier dat Job se hoekom? verander in die veel belangriker vraag: Wie is die Een wat insig het van dinge ver bo menslike begrip? (42: 3). As antwoord sê Job hy het nie net gehoor van die grootheid van God nie, maar nou het ek U self gesien (42: 5).

Oor die eeue heen sit die mens steeds baie keer in sak en as en vra hoekom? Soos Job ons wys, is hierdie vraag deel van die lewe. Net soos Job wanneer ons stil word voor God, hoor ons nie meer net ons hoekom-vrae nie, maar staan ons in verwondering en nederigheid voor die grootheid van God.

Gebed

Here, leer my die stilte van nederigheid en die stilte van verwondering en geloof.

Ds John Robert van Niekerk

Hartebeeshoek