Jesus se getuies

 

Johannes 18: 12-27

 

Dit was laataand, die Donderdagnag toe Jesus voor Annas gedaag is. Op die regterstoel, op ’n klein verhogie, het Annas die hoëpriester gesit. Almal ken vir Annas en almal het sy mag gevrees. Hy was veral ook ’n suksesvolle sakeman. Al die stalletjies op die tempelplein was eintlik die "winkels van Annas". En voor hierdie skatryk, wêreldwyse, korrupte Annas staan Jesus van Nasaret, geboei, moeg en stoksielalleen. Selfs sy beste vriende het Hom in die steek gelaat. As Annas met sy verhoor begin, klink elke sin soos ’n sweepslag. ’n Hoëpriester wat nie bid, seën en vertroos nie, maar verdoem, veroordeel en homself tot elke prys handhaaf.

Dan neem die verhoor ’n interessante wending: Die beskuldigde roep sy eie getuies op! Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het (Joh 18: 21b), sê Jesus. Hulle sal tog seker iets in my belang wil sê. Die melaatses wat Ek gereinig het, die kreupeles wat huis toe gehuppel het, die dowes en blindes. Gaan haal vir Lasarus of die weduwee van Nain, Jaïrus, Nikodemus en Saggeus. Laat hulle in my belang kom getuig.

Maar nie een getuie staan op nie. Jesus se verdediging het platgeval. Dis doodstil in die hofsaal. Buite is dit net Petrus wat sy ontkennende getuienis lewer – hoe moes dit nie die lyding van die Here verdiep het nie!

Die verhoor van Jesus duur in ons dag voort. Ook in ons tyd word Hy belaster, gespot en veroordeel. Ook in ons dag wil mense Hom uit die weg ruim. Sou die Here van ons kon sê: Daar is my getuies! Hulle sal my saak bepleit? Later sou Petrus en Johannes, die vroue en ander in die hele destyds bekende wêreld sy getuies word. Sal ons dit vandag wees?

Gesang 486: 4

Dr Gerhard Nel

Horison Roodepoort