Van God verlate

 

Markus 15: 33-41

 

Met die vierde kruiswoord van Jesus, My God, my God, waarom het U My verlaat?, het ons by die absolute dieptepunt van Jesus se lyding gekom. Om van mense verlate te wees in jou lydensuur is al erg genoeg. Ook dit het Jesus ervaar. Judas het Hom verraai en Petrus het Hom verloën. In Getsemane kon niemand eens een uur saam met Hom waak nie. Maar om van God verlaat te wees? Wie kan dit begryp?

Baie uitleggers wys daarop dat Jesus hier aanhaal uit Psalm 22, wat ’n vertrouenspsalm is. Dit sou die vierde kruiswoord die betekenis gee dat die Godverlatenheid teen Godsvertroue opgeweeg word en dat die bedoeling is om te sê dat God steeds aan die einde red, selfs deur die gevoel van Godverlatenheid heen. Laasgenoemde beteken egter op geen manier dat die roue realiteit van Jesus se Godverlatenheid versag moet word nie.

Terwyl hierdie uitroep van Jesus verbysterend is, is dit ook in ’n ander sin verblydend. Juis in hierdie kreet kan ons die skone klanke van die evangelie hoor. Want as Jesus nie van God verlate was nie, sou ons Godverlate gewees het. Juis in sy Godverlatenheid lê ons heil. In hierdie woorde neem Jesus ons lot so op Hom, skuif sy Godverlatenheid en dié van ons ineen. Nêrens anders blyk dit dat God so naby aan ons gekom het as juis in die Godverlatenheid van sy Seun nie.

Ons Godverlatenheid is deur die Godverlatene op Golgota finaal opgehef. Geen mens sal hierdie woorde ooit hoef te sê nie.

Gesang 387: 2

Dr Gerhard Nel

Horison Roodepoort