Jou tuin van Getsemane

 

Lukas 22: 39-46

 

Die tuin van Getsemane in vandag se Jerusalem is nie ’n tuin in die ware sin van die woord nie. Dis ’n olyfboord met statige ou bome wat jou in stilte begroet. Die stilte van die knoetsige, ou olyfbome wat na bewering dateer uit die tyd toe Jesus die stofpaaie van Judea bewandel het. Van die bome mag selfs getuies wees van Jesus se besoek aan Getsemane. As die bome maar kon praat...

Die woord Getsemane beteken egter oliepars – olyfoliepars. In die Bybelse tyd is vars olywe op ’n groot plat klip uitgegooi en dan met ’n ander klip in die vorm van ’n ronde skyf gepars deur die twee klippe oor mekaar te skuur. Dit is gat semanim genoem. Dit is daarom nie vreemd nie dat Jesus die nag voordat Hy gevange geneem is, daar in die tuin van olywe deurgebring het. Want daardie nag het Hy die druk van die wêreld op sy skouers gevoel soos ’n parsklip.

Maar ék en jý weet dat die wêreld vol van Getsemane’s is. Die TV en koerante herinner ons elke dag daaraan. Waarskynlik beleef ons almal in die een of ander stadium ons tuin van beproewings, ons eie Getsemane. Die vraag is, wat doen jy in jou tuin van Getsemane? Daardie oomblik wanneer die lewe jou van alle kante druk? Jy kan die spoor byster raak. Of jy kan met jou pyn of verlies na die Vader toe vlug. Dis wat Jesus daardie nag gedoen het. Hoewel Hy deur al wat ’n mens is daar in die tuin van Getsemane verlaat is, was Hy nie heeltemal alleen nie. Sy Vader, in wie Hy soveel vertroue gestel het en tot wie Hy gebid het, was saam met Hom daar in die tuin.

Daar in die tuin stuur die Vader ’n engel om Hom te versterk. Onthou, ons Vader stuur ook engele na jou toe. Dalk nie engele met vlerke of stralekranse nie, maar wel in die vorm van ’n vriend. ’n Vriend se goeie raad, of ’n woord van begrip, of dalk net ’n simpatieke oor. Al wat jy moet doen, is om jou oë oop te hou vir die engel wat Hy na jou in jou Getsemane stuur.

Ds Kobus Pienaar

Kruin