Ek ken daardie man nie...

 

Matteus 26: 69-75

 

Dit maak nie saak uit watter hoek of met watter oë jy na die lydensverhale kyk nie, dit ruik na mens. So ’n verhaal is die episode waar Petrus vir Jesus verloën. Daardie oomblik van swakheid toe die ankerdissipel se knieë voor ’n diensmeisie week geword het. Die aand toe die kraak in die rots so duidelik gewys het. Terloops, Petrus beteken rots. Jy kry lus om uit te skreeu: Skaam jou, Petrus! Maar jy huiwer tog, want jy weet jy het ook die twyfelagtige vermoë om die weg van die minste weerstand te volg, al is dit ten koste van iemand anders. Jy dink onwillekeurig terug aan die dag toe jy iemand diep in die steek gelaat het, of skielik kom die verwytende oë van ’n vriend voor jou geestesoog op. Daardie dag toe jy net jou skouers opgetrek, omgedraai en weggestap het. Jy dink aan hoe jy jouself probeer oortuig het dat jy geen ander keuse gehad het nie, maar jy weet jy kon méér gedoen het. Jy weet hoe dit jou vir jare gepla het: Ek is Petrus.

Ja, Petrus se trane daardie aand lank, lank gelede, is die trane van ’n doodgewone visserman met vereelte hande en voete van klei. Ek kan my voorstel hoe hy met ruwe hande die trane uit sy oë wegvee. Die diensmeisie herken hom nie aan sy growwe hande nie, maar aan sy tongval. Dit is waar, jy is ook een van hulle. ’n Mens kan dit aan jou spraak hoor. En hoe meer Petrus stry, hoe meer gee hy weg, nie net van waar hy vandaan kom of met wie hy geassosieer kan word nie, maar veral oor sy verwarde self. Nee, ek is nie wat ek is nie, antwoord Petrus. Ek is hol van binne, ek is stukkend, ek ken nie daardie man nie en bowenal ken ek nie myself nie. Dis die wroeging van ’n gewone siel soos ek en jy. Dis my en jou laataand gedagteturbulensie voor ons gaan slaap, wanneer die muurhorlosie slaan soos ’n haan wat kraai. Dis die aanmaning dat jy bykans die heeldag in jou snelle vaart gemaak het of jy Hom nie ken nie.

Ds Kobus Pienaar

Kruin