Vrydag 26 Februarie

En dan is daar Judas Iskariot...

 

Lukas 22: 47-53

 

Stel jou voor jy blaai deur Judas Iskariot se fotoalbum. Kyk, daar eet hy brood en vis saam met die 11 by die meer. Kyk hoe gelukkig lyk hulle almal. En kyk, daar is hulle op pad na die groot stad Jerusalem. Manne met ’n visie en ’n missie, jy sien dit in hul oë, Judas inkluis. En jy dink aan watter ongelooflike geleenthede hierdie man Judas gehad het. Geleenthede wat net vir ’n handjie vol mense beskore was. Ja, Jesus het hom wat Judas is, gekies as een uit soveel ander kandidate. Om ’n ooggetuie van Jesus te wees, was een van die belangrikste kriteria van gesag in die vroeë kerk. Om deur Jesus self as ’n apostel gevorm en opgelei te word, om later in sy voetspore te volg – watter voorreg! In Matteus 10: 1-19 lees ons dat Jesus al die dissipels met besondere gawes toegerus het, Judas inkluis, om bose geeste uit te dryf, siekes gesond te maak en die koninkryk van God te laat deurbreek soos die son na ’n donderstorm in Nasaret.

So daar het jy dit. Alles op ’n skinkbord vir Judas. ’n Ryk en vol lewe. Die geleentheid om ’n verskil in ander mense se lewens te gaan maak. Om ’n dissipel van Jesus te wees. Maar jy blaai verder deur die album en jou oog vang die donker skadu’s. Die donker kant van Judas se karakter begin deurslaan. Die man vir wie Jesus vertrou het met die evangelie, met sy lewe en die beursie, besluit om Jesus aan die wolwe uit te lewer – teen ’n prys. Jy sien ’n silhoeët, ’n konkelaar soos iewers uit ’n rampokkerfliek. En jy dink aan die ongelooflike geleenthede wat hierdie man deur sy vingers laat glip het.

En jy kom by die laaste foto in Judas se album. ’n Baie donker kiekie, nie soseer van ’n figuur in die nag nie, maar die donker lyne van ’n verlore siel. En jy dink aan al die keuses wat jy al in jou lewe uitgeoefen het en die geleenthede wat jy deur jou vingers laat glip het, en jy maak sy album toe en jy dank die Here jy’s nie Judas nie.

Ds Kobus Pienaar

Kruin