Jesus het gehuil

 

Johannes 11: 28-44

 

Toe Jesus haar sien huil, en dat ook die Jode wat saam met haar gekom het, huil, het dit Hom hewig ontstel en Hy het diep bewoë geword (Direkte Vertaling 2014). Die woorde wat hier rondom Jesus se ontsteltenis gebruik word, dui op ’n intense, smartlike, innerlike beweging. Sy wese krimp ineen en Hy ruk letterlik van ontsteltenis. Jesus word diep in die gees getref deur die dood en alles wat dit vir sy geliefdes meebring. Tot drie maal toe.

Selfs al weet Jesus presies wat Hy gaan doen, maak dit nie dat Hy self minder ly saam met, en deur die pyn en nood van die mensdom nie. Ja, Hy sou Lasarus opwek. Ja, Hy sou sélf die kwaad in ons wêreld se rug breek deur uit die dood op te staan. Maar terwyl sy mense nog ly, ly Hy saam met en namens hulle. En Jesus, as die Seun van God, wys vir ons iets van die hart van God. Dit is gewoon nie waar dat God ver en eensydig toelaat dat sy geliefdes swaarkry onder die smartlikhede van hierdie wêreld sonder dat dit Hom enigsins raak nie. Inteendeel, dit raak Hom intens.

Wanneer Jesus hoor van die ernstige siekbed van sy geliefde vriend en die besluit moet neem om vir die oomblik niks te doen nie, om te wag, impliseer dit vir Hom intense lyding. Hoe kan dit ook anders? Hy ly onder sy eie liefde, dié liefde wat Hom noop om te wag tot die tyd ryp is. Hy wag juis sodat Hy met ’n heerlike liefdesdaad Lasarus uit die dood kan laat opstaan. Hy doen dit sodat ons kan glo dat Hy die Seun van God, God sélf is. Hy doen dit sodat ons in die opstanding en die lewe wat Hy ís, kan deel. Só word hierdie gebeure ’n kragtige gelykenis wat heenwys na Jesus se dood en opstanding, maar ook na ons eie opstanding.

In die tussentyd, vir nou, huil ons nog soms. Maar ons huil is nie ’n troostelose, van God verlate, alleenhuil nie. God is intens mét ons – óók en juis ín ons smart...

Ds Frans Redelinghuys

Sasolburg