Om in God te rus

 

Matteus 11: 25-30

 

Wanneer Jesus van rus praat, bedoel Hy volkome rus vir nou en vir altyd. Dié rus wat Hy met sy lyding, dood en opstanding vir ons moontlik gemaak het. Dié rus wat voortvloei uit ’n innige verhouding van versoening en vrede met God. Om in God te rus, is wat ons as mense regtig nodig het om volledig méns te kan wees. Dit is ook waarna ons eintlik voortdurend smag, selfs al weet ons dit sélf nie eens nie. Om in God te rus, beteken nie dat ons leeglêers word nie. Inteendeel, die rus in God sit ons juis sinvol en vrugbaar aan die werk. Daarom dat Jesus praat van ’n ságte juk en ’n lígte las. So ánders as die skrifgeleerdes van sy tyd wat swaar laste op mense gelaai het om in die regte verhouding met God te probeer kom. Volkome rus kan nét as ’n gawe deur God aan ons geskenk word, want Hy is die bron van ons hele bestaan, die borrelende fontein van die lewe. In ’n innige liefdesverhouding met God, geborge in Hóm, kan ek en jy resloos gedy.

Maar dan moet jy kóm en moet jy drínk. Dit is die voorwaarde. Jy moet God in die lewende en opgestane Jesus sélf kom ontmoet en intiem leer ken. Dít beteken nie nét om ’n soort intellektuele kennis óór God te hê nie. Daardie soort kennis kan jou dalk ’n bietjie help om te besef hoe min jy in werklikheid van God weet of kan sê. Hy is egter nie vas te vang in menslike strukture nie. Hy is Gód, die ongrypbare. Maar Hy belowe sy rus vir dié wat daarna smag en wat bedelend, wagtend en smagtend na Hom toe kom. Trouens, dit is Hy sélf wat in die eerste plek die dors na sy rus in jou laat ontstaan het. Hy wil Homself graag aan jou openbaar. Saam met dié hartskennis kom ook die rus.

Jou hart sal rusteloos bly totdat dit rus vind in Hóm. Die uitnodiging staan, die deur is oop...

Ds Frans Redelinghuys

Sasolburg