Vrydag 4 Maart

Om na God te dors

 

Psalm 42

 

Die mens wat in Psalm 42 aan die sing raak, is iemand wat tot in sy diepste wese na God se teenwoordigheid verlang. Nie om hierdie of daardie rede nie, nét omdat God Gód is en die psalmdigter hom nie ’n lewe sonder God kan voorstel nie. Want God is die elikser vir sy siel. Sonder God en sy heilsame teenwoordigheid is sy siel verskrompelend aan’t wegkwyn in ’n dorre, barre woestynlandskap: Soos ’n wildsbok wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God... Trane is dag en nag my brood... (Direkte Vertaling 2014).

Wanneer laas, indien ooit, het ek en jy só na God verlang? En waarom, of waarom nie?

Ons weet nie presies wat die psalmdigter se spesifieke omstandighede was nie. Wat egter duidelik is, is dat Hy God as ver en afwesig beleef. In sy gedagtes dink hy terug en verlang hy met sy hele wese na dié tye toe hy in die nabyheid van God deelgeneem het aan jubelende feesvieringe. Maar nou het alles verander: My rotsvesting, waarom het U my vergeet? Wanneer alles wat voorheen vir jou belangrik was rondom jou verkrummel; wanneer jy met jou hande léég uitgestrek voor God staan, dié God wat ver en afsydig geword het; dan raak jy stom... en jy huil in die nag...

Maar egte gelóóf word nie so maklik ondergekry nie. Soos ’n refrein klink dit weer en weer: Hoop op God, want ek sal Hom, my God, weer loof vir die verlossing wat sy teenwoordigheid bring. Geloof weier om bes te gee, maak nie saak hoe dit nóú vir my voel nie. Want ek kén my God en ek weet wat ek aan Hom het. Geloof maak dat jy, anderkant begrip of rede, trefseker wéét: Die dors na God se heilsame teenwoordigheid kom van Hom sélf af. Geloof maak dat God, wat binne-in jou woon, weier om jou toe te laat om Hom op te gee, juis omdat Hy weier om jóú op te gee!

As ons na God dors, is Hy dalk baie nader aan ons as wat ons dink...

Ds Frans Redelinghuys

Sasolburg